As ek kyk na waar die tyd staan is dit skokkend om te dink dat ons aan die einde van 2012 staan. Waar het die tyd heen gegaan? Waar gaan ek tyd kry om alles wat ek nog in 2012 wou doen in te pas? Ek moes gou deur alles wat ek hierdie jaar gedoen en ervaar het gaan rondsoek om te besef wat ‘n vol en geseënde jaar ek eintlik gehad het. En ek sê “eintlik”, want deur al die hartseer, wat steeds nie wil wyk nie, was daar darem vrek goeie en lekker tye! Dit was nie net ‘n jaar om herinneringe te maak nie, maar om te waardeer wat ons het en/of gehad het. Om die mooi in die alles raak te sien en kleinigheidjies wat ‘n mens se dag kan bederf te ignoreer. Om groter drome te droom en nie op te gee daarop nie – al is dit soveel makliker.
Mens moet maar altyd van voor af begin as jy alles wil probeer onthou – jy moet deur die lekker en seer werk. Ek wil dus by Januarie begin…
Ek het so baie troues afgeneem en so baie ongelooflike fotograwe geassisteer. Daardeur het ek nie net my selfvertroue en kennis uitgebrei nie, maar ook wonderlike vriende gemaak. Hier is ‘n paar van die foto’s wat ek deur die jaar geneem het:
In Februarie het ek ‘n boudoir kursus bygewoon en moet erken die gogga van hierdie tipe foto’s het erg bytplek gekry. Die feit dat ek die vermoë het om ‘n vrou met selfvertroue na so ‘n sessie kan huis toe stuur dra baie daartoe by dat die gogga nie wil los nie. Om te sien hoe haar selfvertroue groei en die diva in haar wakker maak met elke kliek wat my kamera gee maak dat ek net meer en meer sulke sessies wil doen.
In April het ek alweer my linkerknieg seergemaak en vir ‘n vierde operasie gegaan om die kraakbeen uit te haal. In dieselfde maand het ons vir Tovi, ons dierbare en opvreetbare (en ongelooflike stoute moet ek byvoeg) swart Labrador gekry. Die eerste foto was hy nege weke en die laaste een op agt maande. Kan nie glo hy het so vinnig gegroei nie, want hy is nou al 10 maande oud.
Ek het die geleentheid gekry om ‘n paar Sarie Voorbladgesig van die Jaar deelnemers se portraits te neem.
Ek kon prettige couples, matriekafskeide en familie shoots afneem…
Ek het ‘n nuwe logo en verpakking gekry…
Augustus was ‘n groot, besige en emosionele mallemeule maand!!
Ek het my liewe en amazing hartsvriendin, Jana Gildenhuys, in ‘n karongeluk verloor. Dit is ‘n seer wat steeds nie wil weggaan nie al bid ek hoe hard daarvoor – van die skok toe haar suster my die Vrydagoggend gebel het, haar begrafnis ‘n week later, al die hartseer en emosies tot nou en dan nog vir ‘n baie baie lank tyd. Hierdie gebeurtenis wat sommer spontane trane laat opskiet wanneer ek ‘n liedjie, wat daardie tyd op die radio gespeel het, hoor, as ek haar foto’s op my rekenaar sien of haar naam nog op my bbm het (en nee, ek is nog nie reg om dit af te haal nie). Ek mis my fotografie maatjie – die foto van die reënboog is deur haar geneem. Dis hierdie tyd wat maak dat ek wens ek kan haar net gou weer bel en haar lag hoor. Dit is hierdie tyd wat my begin leer het wat “verdraagsaamheid” beteken al begryp ek dit nog nie. Dit is hierdie tyd wat my laat lag as ek aan haar mannewalesse dink toe sy jonger was of haar nog hoor lag toe sy die laaste keer in ons kombuis saam my gekuier het. Dit is hierdie tyd waar ek my huidige vriendinne baie meer waardeer en die tyd saam hul meer kwaliteittyd maak.
Ek het ook die geleentheid gekry om vir die eerste keer oor die grense van Suid-Afrika te reis en dit nog na Zimbabwe toe ook! Met ‘n splinternuwe paspoort daarby. Ek was ook nou in Desember weer daar!
Ek het vir die eerste keer met ‘n Canon 100mm makro L-series lens afgeneem en ek het my hart op daardie lens verloor:
In September het ek my Fifty Shades of Boudoir projek gelaunch. Hier is die eerste foto daarvan:
Ek het vir my die Canon 50mm 1.4f lens gekoop en wys dié foto, wat ek daarmee geneem het, want hierdie meneertjie, Mitu, het mos in November besluit om vir agt dae weg te raak. Dink hy het in die kontrakteurs wat ons dak reggemaak het se kar geklim toe hul huis toe gaan, by die mall waar hul gestop het uitgeklim en later darem sy weg huis toe gevind. As dit wel so was dink ek my konstante (oorbekommerde) rondry en roep by die mall kon dalk gehelp het.
Ek het ‘n troue met die nuwe Canon 5D Miii afgeneem en is skoon verlief daarop. Ek spaar nou baie hard om vir myself een te koop:
Ek het ook weer saam ou Varsity vriende begin kuier en sommer hul swangerskapsessie gedoen en gister (2012/12/20) het hul ‘n gesonde seuntjie ryker geword!
Hierdie is maar net die bietjie wat ek in my sponsie kon opsuig. As ek alles moet neerskryf wat gebeur het sal ek seker nog drie postings moet doen :-). Dus sal ek julle groet met die mooiste Kerswense van liefde, vrede en die ware betekenis van Kersfees as grootste geskenke. Geniet die laaste paar daggies van 2012 en sien net so baie uit na 2013 soos ek! As julle reis, wees veilig en verantwoordelik. As julle soos ons by die huis gaan wees, geniet die rus en kalmte van die spasie wat jy huis noem.
Dit kan altyd net nog ‘n beter jaar wees as die een wat ons agterlaat.
xxx