Marcelle en Charl se DIY troue het op hul familieplaas net buite Ventersdorp plaasgevind en as ek sê dat dit ‘n fantastiese troue met vrek baie detail was, moet ek amper jok, want ek dink nie daar is enige woorde om al die mooi te beskryf nie. Die dag toe ek vir Marcelle en haar ouers ontmoet het, het ek geweet hier kom ‘n troue wat vir lank onthou sal word – nie net deur die gaste nie, maar deur my en my oulike assistent, Eloise, ook.
Marcelle, met die hulp van haar oulike ma, was baie keatief en spesifiek in wat sy wou gehad het en buiten vir die uitdaging van reën net voor hulle veronderstel was om die “first look” te doen (ja ek het my eerste “first look” ook gehad) , dink ek sy het baie meer gekry as waaroor sy ooit kon droom. Met die stoom wat uit die grondpad kom waar sy die eerste keer daardie Saterdag vir Charl gesien het, tot die stunning kerkdiens en die laaste bietjie son net voor die son onder gegaan het.
Maar terug na die details van die troue. Ek dink enige fotograaf raak opgewonde as daar baie details is om af te neem en hier was baie. Ek het die Vrydagmiddag al deurgery om bietjie op die plaas te gaan loer vir potensiële fotogeleenthede. Daar aangekom was daar so baie hande wat uithelp dat mens net in verwondering kan staan oor hoe wonderlik dit is as ‘n familie en vriendekring so saam kan staan om ‘n troue so spesiaal te maak. Ek het dadelik tuis gevoel – asof ek die lang verlore familielid was wat uiteindelik tuis gekom het. Ek was aangenaam verras om te sien wat mens met ‘n 130 m ou hoenderhok kan doen as dit onafgewerk is, maar onder kreatiewe, bekwame en entoesiastiese hande aangevat word. Ek dink die rofheid van die hoenderhok, met die fyn en sagte dekor, tog plaasgeoriënteerd, het die prentjie baie mooi afgerond – enige bruid se droom plaastroue en enige fotograaf se “once in a lifetime”.
Ek en Eloise het vroegmiddag Saterdag begin foto’s neem by die saal en vandaar het ons na Charl vertrek om sy foto’s te gaan neem – ons het baie meer pret gehad as wat ons verwag het (die foto’s van die manne vertel die hele storie). Daarna is ons na Marcelle en ek dink nie enigiemand sal met my stry as ek sê sy is baie mooi en ongetwyfeld fotogenies nie. Soos julle deur die foto’s gaan sal ek meer oor die sprokie van ‘n troue vertel, want anders sal ek net opeindig om bladsye en baldsye vol te skryf.
Geniet die foto’s saam my, nes ek en Eloise geniet het om dit te neem – elke oomblik van hierdie pragtige dag.
xxx
PS: Ek moet die troue in twee dele publiseer want daar is heeltemal te veel mooi foto’s om alles in een sessie te laai. Moet dus nie te ver gaan nie, want die tweede deel word binnekort ook gelaai
Hierdie woef het almal alte lekker gehelp, oral waar hulle inpak of rangskik, haal hy uit…
Die details en moeite soos hieronder is wat my hart sommer laat bokspring!
Koning “king” protea!! 🙂
Roomys vir nagereg!!
En hier het die pret begin. Meeste van die kere het Charl nie gesien wat ons van agter die kamera gesien het nie, maar dit was vrek snaaks…veral die strooijonkers se gesigsuitdrukkings…:-)! Dit is altyd lekker as die manne hul persoonlikheid in ‘n fotosessie wys, want dan kry mens ‘n idee hoekom hulle as strooijonkers gekies is.
Ek is ook so gewoond om altyd die mooi portretfoto’s van my bruide te wys, maar ek is mal oor die gevoel van Charl wat ek in hierdie foto vasgevang het.
Hierdie is my eerste “first look” ooit! Ek kon nie vir mooier foto’s vra nie en dink ons het hul gevoel vir mekaar so spontaan en pragtig vasgevang gekry. Geen voorgee of aansit nie. Net ware liefde en emosies!
Charl kon nie sy oë van Marcelle afhou nie. Sy het asemrowend mooi gelyk.
Kyk uit vir Deel II…;-) (vervolg binnekort)
Soos altyd is dit amazingly awesome… fantasties mooi!!!!
Julle foto’s is ONGELOOFLIK mooi!!! Pragtig!!
Jul foto’s is baie,baie mooi!!!!!!!!!
Die fotos is almal mooier as MOOI